Kinders is van nature nuuskierig. Dié nuuskierigheid taan ongelukkig soos kinders deur die skoolbanke beweeg. Ontdekking word met resepte vervang. Wiskunde is die een vak wat in die slag bly wanneer kinders hul nuuskierigheid verloor.
Soos kinders deur die skoolbanke beweeg word hul outonomie oor hul eie ontdekkingsreise weggeneem deur ouers wat hul dinkwerk vir hulle doen. Dit alles in die gejaag na goeie punte. Dié aanslag val gewoonlik plat soos leerders die hoërskool betree omrede ouers dan nie meer kan help nie. Daarom moet kinders se aard/belangstelling goed ingeskerp word voordat hulle skool toe gaan. Indien die versoeking voor hulle deur sou staan om algoritmes en rympies te leer, dat dit hulle sal verveel. Daar is wel ’n manier hoe ouers hul kinders reg kan help met Wiskunde. Hier volg 5 wenke:
Praat Wiskunde
Wanneer daar ook al ’n geleentheid is om Wiskunde te praat gebruik dit. Gebruik woorde soos: dieselfde as, groter, langste, meeste, half, gelyk, ongeveer. Dit is belangrik dat die woorde in die konteks van konkrete voorwerpe geskied. Byvoorbeeld: as ek ’n hand vol Smarties en ’n hand vol Nickerballs het, watter hand sal die meeste lekkers bevat? Vermy enige vorm van “babataal”.
Vra vrae
Kinders wat vrae vra met die rustigheid dat hulle nie altyd al die antwoorde self hoef te antwoord nie sal met gretigheid ontdek. Ouers moet nie in die slaggat trap en dink dat hulle alle antwoorde vir leerders/kinders hoef te gee nie. Dit is baie belangrik om eerlik te antwoord indien jy nie iets weet nie, maar dit is nog belangriker om opvolg vrae te vra en saam met jou kind ’n oplossing te soek. Hier is voorbeelde van vrae wat gevra kan word:
- "Hoekom is een kilogram goud dieselfde gewig as een kilogram spookasem?"
- "Hoekom loop die krag vinniger uit op die kragmeter tydens winter as in die somer?"
- "Hoekom is die brandstof verbruik van my een motor beter as my ander motor?"
Al hierdie vrae het ’n ryk Wiskunde ontdekkingsroete waarlangs iemand kan stap. Die slegte eienskap vir enige potensiële Wiskunde-wenner is iemand wat dink hulle weet alles.
Speel buite
Ruimtelike begrip op ’n konkrete vlak is ’n voorvereiste vir ruimtelike begrip op ’n abstrakte vlak. Kinders wat speel deur te klim en te klouter ontwikkel voorstellings van voorwerpe wat hulle later in hulle lewe op ’n gedagtevlak kan manipuleer.
Skep probleme
Een van die belangrikste eienskappe van ’n Wiskunde-wenner is ’n oop-ingesteldheid wat probleemoplossend is. Daarom moet ouers vermy om takies vir hulle kinders te doen. Kinders moet weet dat probleme oplosbaar is indien ons genoeg moeite insit. Ouers kan inisiatief neem om vir hulle kinders probleme te skep wat hulle kan oplos. Byvoorbeeld: Verdeel ’n ongelyke hoeveel lekkers tussen ’n gelyke hoeveel boeties en sussies sodat almal presies ewe veel het. Help ma om die koekieresep te verdrievoudig.
Meet reg
Die stert swaai gereeld die hond in ons huise. Uitslae op toetse of rapporte dikteer onregmatig die manier hoe ons ons kinders meet rakende Wiskunde. Ouers moet eerder na die volgende kyk wanneer hulle wil weet of hul kinders op die regte pad is: Hou my kind aan ongeag of hy regkry wat hy doen of nie, kan hy vasbyt. Raak my kind opgewonde as hy iets teëkom wat hy nog nie gesien het nie. Speel my kind meer buite as wat hy op sy foon speel. As ’n oud-ingenieurstudent kan ek met sekerheid sê dat die mees suksesvolste studente was selde die dux-leerders van hul skool, maar dié wat kon aanhou wanneer almal anders al opgegee het.
Wiskunde is in werklikheid nie so abstrak soos wat die skoolsillabus dit uitmaak nie. Wiskunde as ’n abstrakte taal verklaar net dit wat ons kinders elke dag tussen hulle tone voel. Wiskunde se wortel lê diep in die werklikheid. Ons interaksie met die werklikheid gemeng met ons nuuskierigheid om dit te verstaan en te verklaar sal van ons Wiskunde-wenners maak.
Johan Koekemoer
Onderwysspesialis: Wiskunde