Voel soos nou die dag wat hulle grootoog en vol afwagting op die graad 1-bankies gesit het, en nou staan graad 4 al voor die deur. Skielik verander dinge; dis die jaar waarin kinders meer verantwoordelikheid kry en selfstandig begin raak. Maar moenie bekommer nie,mamma, hulle is gereed vir hierdie nuwe fase.
Daar is ’n paar dinge om aan te gewoond te raak. In graad 4 het hulle vir die eerste keer meer as een juffrou. Elke vak het nou sy eie onderwyser met unieke verwagtinge en manier van doen. Die tempo is vinniger, en kinders moet leer om hul tyd te bestuur, boeke te organiseer en tasse te pak; én dan is daar natuurlik die gevreesde toetse en eksamens wat wink. Hierdie nuwe fase hou uitdagings in, maar dis juis dié uitdagings wat kinders help groei.
Hier is 10 wenke vir mammas om die oorgang na graad 4 makliker te maak:
1. Sukses begin by roetine, want kinders voel rustiger wanneer hulle weet wat om te verwag. Stel vaste tye vir huiswerk, tasse pak en ontspan, in. Dit gee struktuur aan hul dag en help hulle om gewoontes van selfdissipline te ontwikkel.
2. Help jou kind om hul tas te pak en beplan volgens hul rooster. Binne ’n paar weke sal hulle trots wees om dit self te kan doen.
3. Gebruik kleure om vakke en boeke te onderskei, byvoorbeeld ’n blou sakkie en skrif vir Wiskunde, geel vir Afrikaans, groen vir NW; dit help hulle om vinnig die regte boeke op te spoor.
4. Gesels elke middag oor die dag deur vrae te vra soos “Wat was jou gunsteling deel van die dag?” of “Wat het jy vandag geleer?” en werklik na jou graad 4 te luister. Só bly jy betrokke en jou kind leer om op hul skooldag te reflekteer.
5. Gebruik ’n eenvoudige yskaskalender vir belangrike datums van dinge soos uitstappies, take en toetse. Só voel almal voorbereid en vermy julle daardie Sondagaand-skokke.
6. Gebruik Wolkskool van die begin af; moenie wag tot toetsweek nie. Kyk saam na die video’s en leer jou kind hoe om breinkaarte en opsommings te maak. As julle elke week ’n bietjie doen, raak vakke soos SW en NW sommer maklik teen eksamentyd.
7. Maak seker daar is balans. Onthou, hulle is steeds kinders. Maak tyd vir speel, rus en pret. Wanneer hulle ontspanne voel, leer hulle beter.
8. Foute is deel van leer en wys dat jou kind probeer en vorder. Moedig vrae aan wanneer iets moeilik is en herinner hulle dat almal foute maak; dis hoe ons leer.
9. Laat jou kind toe om self te probeer voordat jy inspring. Dis hoe hulle leer om te dink, te beplan en trots te wees op hul eie werk.
10. Kweek by jou kind ’n liefde vir leer deur vir hulle te wys dat dit nie net oor punte gaan nie. Wanneer hulle sien dat jy belangstel in hul skoolwerk en trots is op hul vordering eerder as hul punte, sien hulle dat leer self die beloning is.
Julle is gereed! Graad 4 is nie iets om voor bang te wees nie, dis ’n opwindende nuwe hoofstuk vol groei en ontdekking. Jou kind staan op die drumpel van nuwe dinge, en jy help hulle om hierdie hoofstuk met selfvertroue aan te durf. Gee vir jouself ook ruimte om balans te vind en opnuut te leer wat vir julle werk. Gee een tree op ’n slag en hou moed; dis uitdagend, maar só belonend.
Deur Chanell Badenhorst
Skoleondersteuningsentrum: Kurrikulumontwerper













