
Die groot dag het uiteindelik aangebreek, boetie of sussie moet vandag met graad 4 begin en mamma se hart is maar baie broos. Dit is die begin van ʼn nuwe fase in beide jou en jou kind se lewe en jy is nie mooi seker hoe jy hierdie jaar gaan oorleef nie. ʼn Nuwe program, nuwe skoolure, nuwe aktiwiteite, nuwe onderwysers, eerste klastoets, eerste eksamen, nuwe vakke, meer huiswerk, ens. ens. – dit voel asof die lys net nooit ophou nie. Die goeie nuus is dat jou klein lyfie nie die eerste een is om hierdie groot stap aan te pak nie. In hierdie reeks blogs gaan ek vir jou ʼn paar oorlewingswenke gee om met ʼn geruste hart deur hierdie jaar te kom. In hierdie eerste blog kyk ons na huiswerk.
Graad 4 is die jaar waar huiswerk vir meeste ouers en kinders ʼn realiteit word. Gedurende die grondslagfase was huiswerk ʼn takie wat elke middag afgehandel word om gou die dag se werk in te oefen. In gr. 4 word hierdie inoefen-takies vervang met meer komplekse werksvelle wat ʼn uitbreiding is op die dag of week se werk. In sommige gevalle is huiswerk selfs voorbereiding vir die week se werk en is daar nog geen voorkennis van die werk nie. Dit gebeur so gereeld dat ouers van gr. 4-leerders voel dat hul kinders oorlaai word met onnodige en sinnelose huiswerk. Hoekom moet my kind al hierdie werk by die huis doen as hy reeds die heeldag by die skool was?
ʼn Artikel deur Darshanand Ramdass en Barry J. Zimmerman van die Universiteit van New York in 2011 bied die antwoord. Hulle studie op gr. 4-leerders het bevind dat huiswerk 'n positiewe invloed het op selfdoeltreffendheid, selfrefleksie, verantwoordelikheid vir leer, konsentrasievermoë, omgewingsbestuur, die vermyding van afleidings, en tydsbestuur.
Die studie wys dat leerders wat in gr. 4 geleer is om selfstandig huiswerk te doen al hierdie waardevolle sleutelvaardighede (sagtevaardighede) aanleer en dat hul teen gr. 8 reeds hierdie vaardighede ten volle onder die knie het. Die antwoord is dus om met ander oë na huiswerk te kyk. Tradisioneel word huiswerk gedefinieer as opdragte wat aan leerders voorgeskryf word deur onderwysers om ná skool-ure te voltooi. H. Cooper het in 2006 hierdie definisie aangepas en gesê dat huiswerk gesien moet word as take wat deur leerders uitgevoer moet word búite onderrigtyd.
Liewe graad 4-ouer, die antwoord tot die oorlewing van graad 4-huiswerk is dus eenvoudig: verander jou en jou kind se definisie van huiswerk. Huiswerk is nie ʼn straf nie. Huiswerk is take wat jou sleutelvaardighede ontwikkel. Huiswerk is nie noodwendig net skoolwerk wat tuis gedoen word nie. Huiswerk kan skottelgoed was of grassny ook wees. Leer jou kind die waarde van huiswerk eerder as om dit te sien as ʼn straf. Soek die sleutelvaardigheid wat vasgelê word in elke takie wat tuis voltooi word eerder as om dit namens jou kind te probeer voltooi. Help jou kind om deur huiswerk voor te berei vir die wêreld wat op hul wag, nie alles op een slag nie, maar eerder soos mens ʼn olifant opeet: stukkie vir stukkie.
Verwysing:
Ramdass, D., & Zimmerman, B. J. (2011). Developing Self-Regulation Skills: The Important Role of Homework. Journal of Advanced Academics, 194-218.