February 17, 2025

Wie het gesê jy moet binne die lyne inkleur?

Iewers in ons lewens leer ons om binne grense te bly en ons verbeelding word aan bande gelê. Maar watter moontlikhede sou oopgaan as ons kinders se natuurlike leergierigheid benut en die daaglikse ‘moet-doen’ take in geleenthede vir ontdekking en leer omskep?

Dink aan die naweek wat voorlê. Het jy ook ʼn lysie van al die dinge in en om die huis wat gedoen moet word, soos: “Ek moet Saterdag die gras sny en die tuin netjies maak.” of “Hierdie is die naweek wat ons die speelkamer gaan regpak!” of “Ek moet vooruit beplan en etes vir die week voorberei!”

As grootmense heg ons meeste van die tyd 'n negatiewe konnotasie aan huishoudelike take – iewers langs die pad het ons geleer dat dit werk is. Kinders aan die ander kant, wat nog na die wêreld kyk deur hul natuurlike nuuskierigheid en leergierigheid, sien nie hierdie aktiwiteite as werkies nie. Vir hulle is dit 'n avontuur – 'n geleentheid om iets nuuts te ontdek en deel te wees van wat grootmense doen.

Wanneer het ons opgehou om buite die lyne in te kleur? Iewers in ons lewens leer ons om binne grense te bly en ons verbeelding word aan bande gelê. Maar watter moontlikhede sou oopgaan as ons kinders se natuurlike leergierigheid benut en die daaglikse ‘moet-doen’ take in geleenthede vir ontdekking en leer omskep?


Hoekom nie die bordjies verhang en ons ingesteldheid teenoor huishoudelike take herdefinieer nie? Kosmaak, tuinwerk en opruim hoef nie vervelige pligte te wees nie – dit kan speelse leerervarings word. Vir 'n kind is dit nog nie ‘werk’ nie, maar eerder 'n kans om te help en iets nuuts te bemeester. Gebruik hierdie natuurlike nuuskierigheid tot jou en jou kind se voordeel – en ontdek dalk self weer hoe om buite die lyne in te kleur.

Hier is vier voorbeelde van takies wat jy in leerervarings kan omskep:

• Kosmaak-kaskenades

Hoor jy ook daardie gevreesde, daaglikse vraag: “Wat eet ons vanaand?” Kinders is altyd gereed om insette te lewer – en kom ons wees eerlik, groente smaak net soveel beter as jy dit self help maak het! Hulle is mal daaroor om deel te wees van die aksie in die kombuis, of dit nou is om eiers te breek, slaaiblare te was of deeg te knie. Laat hulle meng, gooi, proe en ruik. Sommer terwyl hulle speel, leer hulle ook – oor mates, verskillende geure en hoe hitte kos transformeer. Wie kan nou ʼn ete weerstaan waaraan klein handjies met trots gehelp maak het?

• Operasie-opruim

Opruim voel dalk soos ʼn berg wat voor jou lê. Maar maak ʼn speletjie daarvan en die berg verander in ʼn molshoop. LEGO in ʼn emmer gooi klink dalk nie opwindend nie, maar wat as dit ʼn uitdaging of selfs ʼn kompetisie word? Hou ʼn resies om te sien wie die vinnigste sy kamer kan regpak of sy bed kan opmaak. Laat jou kinders hul LEGO volgens kleur of vorm sorteer –sommer ʼn slim manier om spelenderwys te leer. Maak opruim só lekker dat hulle eers agterkom alles is netjies wanneer die pret verby is!

• Wasgoed-wals

Wasgoed was is dalk nie jou idee van pret nie, maar vir kinders kan dit ʼn speletjie word! Laat hulle help om kleure uit te sorteer of kyk wie die meeste hemde op hangers kan kry voordat die tyd uitloop. Maak dit ʼn uitdaging om die eeue-oue raaisel van verlore sokkies op te los – dalk ontdek hulle ʼn geheime dimensie in die wasmandjie! Met ʼn bietjie kreatiwiteit kan selfs die wasdag ʼn prettige dans van sorteer, ophang en uitsoek word.

• Tuin-toertjies

As daar een ding is waaroor kinders nooit kla nie, is dit om met modder te speel! Gee vir hulle ʼn klein hoekie in die tuin waar hulle self iets kan plant en sien groei – ʼn klein tamatieplantjie, ʼn blom of selfs kruie vir die kombuis. Sit ʼn gieter in hul hande en kyk hoe hulle met trots elke dag hul plant natmaak en dop hou. Voor jy jou oë uitvee, het jy ʼn klein tuinier!

Wanneer ons ophou om huishoudelike take as vervelige pligte te sien en dit eerder as ʼn kans om saam met ons kinders te ontdek beskou, verander die hele ervaring. Wat vir ons ʼn alledaagse taak is, is vir hulle ʼn avontuur – ʼn geleentheid om te meng, te bou, te sorteer, te plant,te tel en sommer net deel te wees.

Deur hulle op ʼn speelse manier te betrek, leer hulle natuurlik en sonder druk – en wie weet, dalk begin jy self weer die klein oomblikke waardeer. Dit gaan nie oor perfekte opruimde kamers of perfekte etes nie, maar oor die saamwees, die lag, en die herinneringe wat tussen die alledaagse geskep word. So, hoekom verhang jy nie die bordjies nie en voeg ʼn bietjie pret by die praktiese dinge voeg? Miskien is dit juis in hierdie oomblikke dat ons weer leer om buite die lyne in te kleur.


Deur Chanell Badenhorst
Skoleondersteuningsentrum: Kurrikulumontwerper