August 15, 2024

Die belangrike rol van voorbereiding in die leerproses.

Terugskouend na my universiteitsdae, besef ek hoe belangrik voorbereiding is. My eerste jaar in BSc Toegepaste Wiskunde en 'n onverstaanbare Calculus 1 klas het my geleer dat voorbereiding lei tot beter begrip, aktiewe deelname, verbeterde denkvaardighede, tydsbestuur en selfvertroue.

As ek terugdink aan my universiteitsdae is daar een dag wat baie helder in my geheue op kom. Dit was my eerste jaar en ek het BSc Toegepaste Wiskunde studeer. Wiskunde was nog altyd my gunsteling dissipline so hoe moeilik kan dit nou regtig wees? Ek kan nie my dosent se naam onthou nie, en ek sal hom ook nie herken as ek hom vandag op die straat raakloop nie, maar ek onthou goed dat dit Calculus 1 was, en dat hy vir ons leeswerk voorgeskryf het om te doen voor die lesing. Ek het pas 12 jaar van skool voltooi en nooit voorberei vir enige Wiskundeklas nie so hoekom sou ek nou begin? Ek onthou tot vandag toe nog daardie klas, omdat ek nie een, enkele woord wat daardie dosent kwyt geraak het kon verstaan nie. Dit was ook die laaste klas wat ek onvoorbereid bygewoon het.  

As ouer is dit maklik om in die strik te trap om te dink dat jou kind se bywoning in die klas en die afneem van aantekeninge genoeg is om akademiese sukses te waarborg. Jou kind is mos in die skool om te leer, so hoekom moet dit nog tuis ook plaasvind? In hierdie blog kyk ons na die voordele wat voorbereiding kan inhoud vir jou kind.

Beter begrip van die materiaal:

As kinders vir klasaktiwiteite voorberei, verstaan hulle die materiaal beter omdat hulle al bekend is met die inhoud. Dit help hulle om die les te volg en aan klasbesprekings deel te neem, wat lei tot 'n dieper begrip van die onderwerp.

Aktiewe deelname aan die klas:

Voorbereide kinders neem meer aktief deel in die klas, met ander woorde hul vra en beantwoord makliker vrae sal ook gewilliger bydra tot groepbesprekings. Aktiewe deelname help hulle om goeie verhoudings met klasmaats en onderwysers te bou, wat 'n beter leerervaring skep.

Verbeterde kritiese denkvaardighede:

Voorbereiding vir klasaktiwiteite beteken dat kinders die materiaal vóór die klas ontleed en interpreteer. Dit help hulle om kritiese denkvaardighede te ontwikkel, belangrike konsepte te identifiseer en verskillende idees te verbind. Hierdie vaardighede is belangrik vir akademiese sukses en sal ook in hul persoonlike en professionele lewe nuttig wees.

Tydsbestuur:

Voorbereiding vir klasaktiwiteite verg beplanning en organisasie. Dit kan kinders help om effektiewe tydbestuursvaardighede te ontwikkel terwyl hulle akademiese verantwoordelikhede prioritiseer. Jou kind sal ook beter voorbereid wees om werkopdragte te voltooi en vir eksamens te studeer, wat tot verbeterde akademiese prestasie lei.

Verhoogde vertroue:

As kinders voorbereid by die klas kom, voel hulle meer vertroud met hul vermoëns om die materiaal te verstaan. Hierdie selfvertroue help om 'n positiewe houding teenoor leer te bou en kan ook hul selfbeeld versterk.

Terwyl die bywoning van die klas en die afneem van aantekeninge 'n noodsaaklike deel van die akademiese ervaring is, is dit nie genoeg om sukses te verseker nie. Die Omgekeerde Klaskamer metode behels juis dat kinders die tyd neem om voor te berei vir klasaktiwiteite sodat hulle begrip van die materiaal kan verdiep, hulle kritiese denkvaardighede kan ontwikkel, hulle leer om meer effektief hulle tyd te bestuur en sodat hulle aktiewe deelnemers aan hulle eie leerreis kan word. Deur in voorbereiding te belê, kan jou kind die volle potensiaal van sy/haar akademiese ervaring ontsluit en na vore tree as 'n selfversekerde en betrokke leerder.