July 16, 2024

Wie doen die dinkwerk in jou klaskamer?

Met die stasie-rotasie model kan leerders in 'n vervlegte leeromgewing self werk ontdek en kritieke vaardighede aanleer, wat dissipline en roetine bevorder, en die fokus van onderwysergesentreerde na leerdergesentreerde onderrig verskuif.

Het jy al só daaraan gedink? Is dit hoofsaaklik jy wat dink en die leerders neem  net die reeds verwerkte inligting in en  leer dit bloot vir die eksamen? Of kry die leerders die geleentheid om die werk self te ontdek en daardeur vaardighede aan te leer wat hulle vir die res van hul lewe sal toerus? Natuurlik sal almal saamstem dat laasgenoemde manier die ideale vorm van leer is, maar hoekom gebeur dit dan so selde?

Om jou effens gerus te stel ...dit is nie net 'n  dilemma  in jou klaskamer nie, dit is ʼn wêreldwye onderwysprobleem dat leerders nie die regte denke en vaardighede vir die 21ste eeu aanleer nie. Die goeie nuus is dat jy die regte leeromgewing vir leerders kan skep deur die stasie-rotasie model toe te pas, wat hulle sal help om die toekoms met die regte vaardighede binne te gaan.

Stasie-rotasie

Met die “stasie-rotasie” model rig jy jou klaskamer so in  dat optimale leer kan plaasvind. Stasie-rotasie is ‘n vervlegte leer- en onderrigmodel waartydens die leerders wissel tussen aan- en aflyn stasies wat strategies in ’n klaskamer geplaas word.

Die volgende hindernisse  moet oorkom word om die stasie-rotasie model te laat slaag:

Eksamen-gedrewenheid

Hoërskoolonderwysers vind dit dikwels moeiliker as laerskoolonderwysers  om hierdie leermodel te implementeer aangesien hulle gewoonlik nog op die onderwysergesentreerde wyse skoolhou waar die onderwyser die middelpunt is en leerders net inligting moet ontvang en absorbeer om eksamengereed te wees 

Dissipline

Onderwyser is dikwels bang om hul goed ge-oliede onderwyser-gesentreerde klaskamer na ʼn vervlegte leer klaskamer om te skakel omdat hul bang is hulle verloor beheer oor hul klas en dat  dissipline so sal skadee ly.

Roetine

Roetine het dissipline tot gevolg en as  jou leerders reeds ʼn vaste klaskamerroetine het sal  dit nie moeilik wees om net oor te skakel na 'n  nuwe roetine nie.

Verduidelik eenvoudig hoe die stasie-rotasie model werk en laat hulle dit 'n keer of wat oefen. Daar is niks om te verloor nie en jy sal  nie ʼn enkele oomblik spyt wees nie!

Kyk net ’n bietjie na die voordele van die stasie-rotasie model:

  • Jy het kleiner leergroepies binne die groter klas.
  • Jy kan meer aandag aan individuele vrae gee.
  • Hier is ’n geleentheid vir maksimale gebruik van minimale tegnologie.
  • Die fokus is nou weg van die onderwyser af na daar waar dit hoort: op die leerder.

Verskillende stasie-rotasie modelle

Daar bestaan ’n magdom stasie-rotasie modelle in die literatuur, maar die volgende is die eenvoudigste om te implementeer en dit akkommodeer boonop verskillende leerstyle:

Rotasiemodel

Stasie 1: Die onderwyser-gefokusde stasie

Die onderwyser werk hier met 'n kleiner groepie leerders, beantwoord vrae, merk huiswerk en maak seker al die werk word voltooi binne ’n gegewe tydperk.

Stasie 2: Die aanlyn stasie

Die leerder kyk Wolkskool-video’s oor die verskillende afdelings teen hulle eie tempo. Leerders moet by die stasie ook Wolkskool-assesserings voltooi. Dit bied aan die leerder inoefening van kennis en dit gee ook terugvoer of hy/sy die werk verstaan. 

Stasie 3: Die pen en papier stasie

Hier word twee of drie probleemoplossingswerkkaarte, wat toenemend moeiliker word, aan leerders beskikbaar gestel. Leerders werk in 'n klein groepie saam om die vrae te beantwoord. Hulle ondersteun mekaar om die werk te verstaan. Die eerste werkkaart moet so uiteengesit word dat dit ‘n ontdekking is van die nuwe werk.

Dit maak dus nie saak of ‘n leerder op die eerste dag  in groep een, twee of drie is nie. Elke stasie dra by tot hulle kennis en verstaan van die verskillende onderwerpe van die week. By elke stasie het die leerder die geleentheid om inhoud en begrippe van iemand anders te leer en ook te deel met groeplede.

Hoe implementeer ek die stasie-model?

Stap 1: Deel die leerders op in drie lukrake groepe. Moet hulle nie volgens aanleg of intellektuele vermoë indeel nie. Gebruik eerder groepdinamiek as beginsel sodat samewerking eerder as vaardigheid in ag geneem word.

Stap 2: Moenie fokus op wat die leerders vir ‘n spesifieke dag moet leer nie, maar beklemtoon eerder wat hulle vir daardie week moet leer.

Stap 3: Jou rotasieprogram sal deur die lengte van jou periode bepaal word. Aas jy  byvoorbeeld ʼn 40-minute periode en ses periodes per week het, kan jy elke 20 minute roteer. Jy kan selfs reël dat  rotasie eers na afloop van elke periode plaasvind en dat leerders met ander woorde aan die begin van 'n volgende perdiode  na ʼn volgende stasie aanskuif.

Stap 4: Aan die begin van die week word die week se werk aan die leerders by elke stasie gegee. Hulle moet seker maak alles is voltooi teen die einde van die week.

Stap 5: Vestig die beginsels en kultuur van verwerwing, inoefening en bemeestering van die werk in die klaskamer by elke stasie.

Stap 6: Kry ’n oorsig oor die week se werk:

  • Stasie 1: Die onderwyser was self betrokke en het leerders gehelp, huiswerk gemerk en vrae beantwoord.
  • Stasie 2: Die onderwyser kan sien watter Wolkskoolinhoud die leerders voltooi het en wat hulle punte vir die assesserings was.
  • Stasie 3: Leerders moet hulle werkkaarte met die probleemoplossings ingee of net bewys lewer dat hulle dit voltooi het.

“Nou” is die beste tyd

Hierdie is ’n ideale geleentheid vir jou as onderwyser om ’n  roetine van vernuwende onderwys in jou klaskamer te vestig. Onthou, niks werk die eerste keer 100% nie. Gee dit dus ’n paar weke kans. Moenie moed verloor as dit steeds nie werk nie. Onthou, daar is ander stasie-rotasie modelle wat dalk beter vir jou klaskamersituasie kan werk!

…en hoe sê hulle?

“Practice makes perfect.”

Die Wolkskool is ’n nuwe generasie leerplatform vir leerders. Onderwysers en ouers word ingelig, bemagtig en betrek by hul kinders se vordering. Leerders kan ter eniger tyd leerinhoud bemeester deur middel van hoë kwaliteit videolesse, assesserings asook ondersteunende lesmateriaal in vakke soos Wiskunde, Wetenskap, en Afrikaans Huistaal – gebaseer op die KABV-kurrikulum. ,Alles in Afrikaans, teen ’n fraksie van die koste wat ekstra klasse sou kos.