August 15, 2024

Dink nuut oor assesserings!

Ons moet nie net verander hoe ons assesseer nie, maar ook wat ons assesseer om leerders voor te berei vir die 4de Industriële Rewolusie.

Ons moet nie net verander hóé ons assesseer nie, maar ook wát ons assesseer  om sodoende leerders voor te berei vir die 4de Industriële Rewolusie (4IR).

4IR het die onderwys reeds op fundamentele maniere beïnvloed, maar tot nou toe het dit nét die manier waarop ons onderrig, verander. Dit het onderwys realisties gemaak deur middel van augmented reality (AR), virtual reality (VR), of selfs meer toeganklik gemaak deur middel van aanlyn platforms.

Maar het dit regtig verander wát ons leer? Darling-Hammond (2015) het verduidelik dat daar tussen 1999 en 2003 meer nuwe ontdekkings gemaak is as in die geskiedenis tot op daardie stadium en wat ons leer (die kurrikulum), het nie regtig daarby aangepas nie.

Dit is goed om te argumenteer dat ons die manier waarop ons assesseer moet verander, want deur verskillende assesseringsmetodes leer die leerders verskillende waardevolle vaardighede wat hulle nodig het om te oorleef in die steeds veranderende wêreld. Ek glo egter ook vas dat ons moet verander hóé ons oor onderwys as ‘n geheel dink. Ons moet nie net die manier waarop ons assesseer nie, maar ook wát ons assesseer, verander. Wát ons moet assesseer, beïnvloed ook hóé ons dit kan assesseer.

Om net klein veranderinge in die manier waarop ons assesseer en hoe ons die inhoud oordra te maak, is soos om ʼn huis wat in 1960 gebou is te neem en net nóg kamer aan te bou. Ja, dit lyk goed, en elke kamer het sy doel en ons doen ons bes met wat ons het, maar wanneer jy egter uit die staanspoor uit vir ʼn spesifieke doel, ʼn nuwe, moderne, ontwerpte huis binnestap, sal jy nie terugtrek na jou ou huis toe nie, maar eerder die ou huis afbreek en van nuuts af bou.

Die rede vir hierdie argument is dat ons huidige assesseringspraktyk met dieselfde toets en onveranderde assesserings, die leerlinge dwing om die inhoud te herhaal en sodoende te memoriseer sodat hulle dit in hul graad 12-finale eksamen neer kan skryf. Ons het nie die mag om die leeruitkomste van die kurrikulum te verander nie, en daarom moet ons alles in ons vermoë doen om ons leerders die beste voor te berei vir die toekoms deur dit wat ons wél kan verander.

Harris en Hodges, (1995) definieer assessering as die proses om data te versamel om sodoende die sterk en swak punte van die student en hul leer beter te verstaan. As onderwysers weet ons dat assessering meer is as net gradering. Dit meet die vordering van die leerder en ondersteun die leerproses. John Biggs (1999) het opgemerk dat die manier waarop studente dink hulle geassesseer gaan word, beïnvloed hoe hulle leer. Die manier waarop ons tans assesseer, vertel ons niks oor hóé die leerder geleer het en wat hul motivering was nie. Dit dien slegs as ʼn aanduiding van waarméé die leerder sukkel, terwyl ʼn goeie assessering ál die vrae moet beantwoord.

Assesserings kan die manier waarop studente leer, verander, asook waaróp hulle hul tyd en energie fokus. Assesserings kan ook dien as ʼn leergeleentheid en daarom moet ons assesserings ontwerp sodat ons leerders eerder vaardighede aanleer as wat daar net kennis oorgedra word.

Ja, ek weet ons het ʼn berg om te klim. Ons moet daarop fokus om seker te maak dat die leerders voorbereid is om die assesserings wat deur die onderwysdepartement opgestel word, te kan doen. Ons moet dit op ʼn vars en innoverende manier doen om die leerders nie net voor te berei vir die assesserings nie, maar ook sodat ʼn hele nuwe stel nodige vaardighede, wat nie in die kurrikulum gedek word nie, aangeleer kan word.

Ek reken dit kan gedoen word. Wat dink jy? Waar begin ons? Ek is van mening dat selfs as die leerder nie met die nuwe manier van assessering ewe goed vaar nie dit steeds die moeite werd is, selfs al kry leerders net blootstelling aan die nuwe vaardighede wat die veranderings teweegbring.

Verwysings:

  • Biggs, J (1999) What the Student Does: teaching for enhanced learning,
    Higher Education Research & Development, 18:1, 57-75, DOI: 10.1080/0729436990180105
  • Darling-Hammond, L. [Tedx Talks]. (2015, June 29) Testing,Testing.
    [Video] https://www.youtube.com/watch?v=2G_vWcS1NTA
  • Harris, T. L., & Hodges, R. E. (1995). The literacy dictionaries.
    Newark, DE: International Reading Association.
  • Reaves, J (2019) 21st-century skills and the fourth industrial revolution:
    a critical future role for online education, DOI: 10.1615/IntJInnovOnlineEdu.2019029705
  • RM Results, (2020, January 14). Assessment in the fourth industrial revolution.
    https://blog.rmresults.com/assessment-in-the-fourth-industrial-revolution