August 15, 2024

Oorlewingsgids vir graad 4-mammas: toetse en eksamens.

"Die eerste eksamens van graad 4 is nader, en Wolkskool bied vyf praktiese wenke om jou kind (en jou) deur hierdie uitdagende tydperk te help."

Die kwartaal is nou al goed op dreef en begin uiteindelik einde se kant toe staan. Tot dusver het jy en jou graad 4-kind dit nog oorleef, maar nou kom daardie groot E-woord nader, EKSAMENS. Jy het geweet dit gaan kom, maar het dit tot nou soos pes probeer vermy, want hoe oorleef 'n mens jou graad 4-kind se eerste eksamen?

In enige situasie waar iets soos 'n berg voor my lê, wil ek altyd eerste weet: Hoekom moet ek dit doen? Ek lees toe raak in ʼn artikel geskryf deur Taghi Jabbarifar (2009) dat daar vier hoofredes vir die assessering van leerders is, naamlik om:

1. vordering oor tyd te meet/monitor;

2. leerders te motiveer om deurlopend te studeer;

3. die onderwysers se onderrigmetodes te evalueer en te verbeter; en

4. leerders se vaardighede te evalueer in verband met die groter groep (om te bepaal  
   wat die standaard van onderrig is).

Jabbarifar beklemtoon verder dat klaskamerassessering daar is om die leerder se vordering te evalueer eerder as om hul te probeer uitvang of vasvra. Hieruit kon ek aflei dat dit van kardinale belang is dat leerders wel op skool toetse en eksamens moet skryf aangesien dit die effektiefste manier is om ʼn groot groep leerders te assesseer.  

Eksamenskryf is dus onvermydelik, maar daar is gelukkig raad oor hoe om dit te oorleef. Hier volg vyf wenke vanuit die Wolkskoolkantoor om jou (en jou kind) te help om makliker deur die eksamentydperk te kom:

1. Begin vroegtydig  

Moet nie wag tot die aand voor ʼn eksamen om te begin studeer nie. Onthou dat huiswerk, klaswerk en klastoetse alles gebruik moet word ter voorbereiding vir eksamens. Hoe meer deurlopend jou kind studeer, hoe makliker gaan die eksamentydperk vir hom/haar en vir jou wees.

2. Kry ʼn studiemetode wat vir jou kind werk

Ons almal leer nie op dieselfde manier nie. Stuur jou kind op ʼn studiemetodekursus om vas te stel watter metode vir hom/haar die beste werk. Wolkskool het ook ʼn studiemetodekursus beskikbaar wat aanlyn voltooi kan word.  

3. Een vak op ʼn dag

Moet nie probeer om meer as een vak op ʼn dag in te prop nie. Stel vir jou kind ʼn rooster op en fokus op een vak per dag.

4. Moenie opsommings koop nie

Soos reeds genoem, leer elke mens op sy eie manier. Deur opsommings te koop of namens jou kind op te stel, help jy hom/haar van die wal in die sloot. Hy/sy moet so gou as moontlik leer om selfstandig te studeer en graad 4 is die perfekte jaar hiervoor. Ja, jy sal moet help en bystand lewer, maar leer eerder jou kind hoe om opsommings te maak as om dit namens hom/haar te doen of te koop.  

5. Oefen, oefen en oefen nog 'n bietjie

Kry vir jou kind ekstra oefeninge sodat hy/sy die werk oor en oor op verskillende maniere kan leer en kan oefen. Wolkskool is een van die platforms wat reeds deur menige leerders baie suksesvol gebruik word om ekstra oefening in te kry voor ʼn groot toets of eksamen.  

Die belangrikste ding om te onthou, is om jou kind te alle tye by te staan. Moet hul nooit negatief maak oor eksamens en toetse nie. Vind die studiemetode wat werk vir jou kind en help hom/haar om studietyd lekker te maak. Eksamens en toetse is ongelukkig een ding wat jou kind vir die res van sy/haar lewe nie sal kan vryspring nie. Maak dus seker dat dit nie die oorsaak van slaaplose nagte vir jou of jou kind word nie. Baie sterkte vir al die graad 4-leerders en veral hul mammas vir die eksamens wat voorlê. Ons by Wolkskool weet dat julle dit sommer lag-lag sal maak!